Breakfast Run

Op Sondag 17 April 2011 het die klub lede mekaar ontmoet by Kuilsrivier Pick 'n Pay parkeerterrein. Verrassend genoeg het 'n groot aantal lede opgedaag en die oggend het begin met 'n vrolike gegroet en gesels. Statig het ons vertrek na die “theonlyone” Restaurant op die Bottelarypad. Dawie en Anneline met hul nuut aangeskafte Renault Dauphine, in 'n pragtige rooi/oranje kleur, was beslis 'n aandag-trekker. Die karrertjie het ook die oulikste sonskerm oor die voorruit. Harry en Elzetna was ook daar met hul Dauphine. Harry waar is jou sonskerm?

Liefie en Bonita het met Harry se Gordini gery. Oppad na die restaurant toe, het Liefie die hele tyd met die linkerkantste flikkerlig aan gery, maar bly regs draai! Ai, die mense… Heini en myself was daar in ons Gordini, dit was die heel eerste keer dat ek in die Gordini gery het. Ek hoop dis die eerste van vele kere. Hoop om volgende keer al die ander klublede se motors te sien wat hul nog besig is om te restoureer.

Die restaurant was 'n verrassing en in 'n mooi landelike omgewing gelëe. Liefie het 'n paar woorde gesê en toe begin die geselligheid. Die kos was heerlik en die kuiertjie saam met vriende lekker — so lekker dat die restaurant eienaar ons vriendelik versoek het om te gaan, sodat hulle die tafels vir die middagete kon voorberei. So hopelik as die klub se fondse mooi groei kan ons volgende keer vir middagete bly en die klub kan betaal? (Sal ons dames dit nie geniet nie?) LOL!

Met vrolikheid het ons van mekaar afskeid geneem en ons sien mekaar gou weer op 'n uitstappie. Groete en mooi bly!