Op Sondag 6 November was daar groot opwinding en makietie by die Cape Classic Motor Show op die Jan Burger Sportvelde in Parow.

Daar was oor die 1,000 kleurvolle en stylvolle klassieke motors en motorfietse, iets vir elke fynproewer, óf sommer vir die ou wat gaande is oor hierdie kunswerke van blink staal en glas op wiele.

Die WP Renault Klub se motors was prominent geparkeer by die ingang van die sportvelde en al die hordes mense wat opgedaag het moes eers dáár verby voor hulle verder kon ingaan.

En was daar nou gekoekeloer en gekattemaai! Dik tannies, sexy meisies, woelwater kinders, ou mans met vet snorre en jong latte met houding het almal die knie kom buig voor van die mooiste motors in Afrika.

Dit was ook van die gróótse versameling van hierdie prag-motors in 'n baie lang tyd in Kaapstad en hulle het geskitter soos rocksterre in die sonnige dag.

Daar was 28 Renault motors, onder andere: 'n Renault 4CV, Renault Dauphine, Renault R8 Gordini en Renault Caravelle.

Die motors dateer meestal uit die goue 50's en 60's, toe 'n kar nog iets was wat respek kon afdwing. Inderdaad, die publiek se reaksie reg deur die bank was oorweldigend positief.

Twee jaar gelede was ons net vier Renaults in die klub, Sondag was daar 28. Dit was 'n groot dag vir die WP Renaultklub en sy aanhangers – met lekker geselsies, 'n koue bier of wat, braaivleis, sonnige weer, ou vrinne wat weer kon blad skud en musiek.

Maar één ding is seker: Die dag het aan Renault behoort, finish en klaar. Gesondheid in die rondheid en tot volgende keer.