Dit was ons eerste bywoning en wat 'n fantastiese fees! Ons moet defnitief volgende jaar weer die fees bewoon in groter getalle.

Liefie en Bonita het alreeds die Vrydag deurgekom om 'n vertoning van Andries Vermeulen in die vermaaklikheidstent by te woon. Harry, Elzetna, Dawie en Annaline het vroeg Saterdagoggend in die pad geval om by hul aan te sluit. Met aankoms by die feesgronde, het elke motor 'n KFC geskenksakkie ontvang.

Daar was ook heelwat ander motors van die verskeie motorklubs en Liefie was sommer daar en dan opgekommandeer om die uitleg van die veld te doen en te sorg dat almal op hul regte plek staan. Wat 'n pragtige gesig was dit nie, toe al die motors in 'n perdeskoen geparkeer was. Ons klub was verteenwoordig deur 3 motors.

Die feestelikheid het begin met 'n optog van trompoppies, trekkers en perde buite in die straat wat op die feesterein geeindig het. Die program was propvol met vertonings van die Witzenberg rieldansers, Volkspelers, toutrek spanne, sweepklap span en die Brandweer om toeskouers te vermaak. Daar was ook vele interesante stalletjes wat nie by ander skoue te siene is nie. Daar was ook baie kosstalletjies om van te kies en te keur, met heelwat swartpotte wat op vure geprut het. Later was 'n potjiekoskompetiesie gehou wat deur Martelize Brink beoordeel was.

Herman Lensing het in die vermaaklikheidstent 'n kosdemonstrasie gehou en die groep, Bottomless Coffee ,het vir die musiek en sang gesorg. Daar was ook 'n opelug kroeg met lewendige optredes die hele dag. Rugbyaanhangers kon ook die wedstryde op 'n grootskerm kyk.

Harry het 'n aanbod van 250k vir sy Gordini gekry, maar na 'n gekopkrap, het hy en Elzetna dit van die hand gewys. Dawie se 4CV het met die prys vir "For The Cutest Car" weggestap. Na die Fees het ons by die Hamlett lodge oornag.

Die volgende oggend het ons en van die ander klubs se lede na Basil Wesson se versameling van oor die 100 ou motors in Ceres gaan kyk.

Oppad van Ceres na Wolsley,, het ons in die bergpas rookwolke gesien en dadelik besef dat dit 'n stoomtrein is. Dit was 'n toetslopie van die lokomotief, wat die roete na Ceres sal doen, waneer dit weer oopgestel word volgende jaar. Wat 'n fantastiese ervaring om die "awesome" naweek mee af te sluit.

Hoop om almal volgende jaar daar te sien.