As jy van skaars wiele praat, moet jy vandag 'n regterstuur ­Alpine soek. Slegs 75 weergawes van die laaste reeks Alpine A610's is destyds ge­bou, en daar is vandag nog net een van hulle in Suid­-Afrika.

Leon Erasmus was die eerste Suid-­Afrikaner wat die voorreg ge­had het om hierdie stukkie Franse meesterskap te besit.

Die motor het 'n interessante ge­skiedenis, vertel Erasmus.

“Ek het die motor destyds by 'n handelaar in die Kaap sien staan. Dit was glo 'n Brit se ryding wat hy hier agtergelaat het voordat hy te­rug is Engeland toe.

“Hy het hier met die motor kom rondry toe hy skielik siek geword het en gehospitaliseer moes word. Om sy aansienlike rekening te kon delg, moes hy sy motor aan die motorhandelaar verkoop.

“Dit is toe waar ek die Alpine sien staan het. Ek het self 'n Re­nault gery en was dus geïnteres­seerd.

“Ons het onderhandel, en toe koop ek die Alpine by die hande­laar.”

Die rooi Alpine was oorspronklik groen toe hy nog in Brittanje was.

Die eerste eienaar het hom egter rooi gespuitverf voordat hy hom na Suid-­Afrika gebring het.

“Dit was 'n bulletjie, hoor,” vertel Erasmus.

“Dit was nog die beginjare van turbotegnologie. As jy jou voet neersit, is daar eers net niks. En dan, skielik, bars al die perde net los en slaan hy jou met mening. Dan moet jy jou storie ken.

“Onthou ook, die brandstoftenk het voor gesit, en die bakpanele was net van glasvesel. As jy dus in 'n botsing was...

“Dit was een van die redes waarom ek hom later verkoop het. Ek het met hom gespeel, maar hy kon jou byt as jy nie wakker is nie.

“Toe verkoop ek hom aan 'n Re­nault­fanatikus in Gauteng.

“Dit was 'n 1990-­model, met 'n vyfgang­handratkas. Daardie groot vensters was mooi, maar dit kon hom warm laat word het in die so­mer.

“Jy het lekker gesit in die Alpine, maar pakplek was min, net so 'n holte voor in die neus, langs die noodwiel.

“Maar 'n lekker vuurwa, daardie Alpine.”